Sunday, May, 17, 2026
The National Citizen Logo

Onafhanklike Mammasklub: 'n Genesingsruimte vir Enkelmoeders

South Africa | Lihle Mqhwayi | 05 August 2025
Onafhanklike Mammasklub: 'n Genesingsruimte vir Enkelmoeders

Die Onafhanklike Mammasklub is meer as net 'n ondersteuningsgroep, dit is 'n veilige en ondersteunende ruimte waar enkelmoeders kan genees, groei en saam krag vind. Dit is gestig deur Lazanne Simony McLeod saam met Devina August op 21 Junie 2024. Dit is 'n God-geleide groep wat enkelmoeders 'n veilige ruimte bied om die emosionele uitdagings van ouerskap te hanteer, genesings programme gebaseer op geloof aanbied en terug gee aan die gemeenskap.

Vir Lazanne McLeod, 'n enkelma van drie, het die idee vir die klub ontstaan toe sy emosioneel uitgeput, geestelik gedreineer en skaars bymekaar gehou het. Te midde van 'n donker ervaring het sy getuig van 'n roeping wat haar gemotiveer het om 'n groep te begin wat 'n genesingsruimte vir vroue soos sy kon word. Vandag leef daardie visie deur die Klub, 'n susterskap wat vroue help om hul krag te herontdek, hul waarde te herstel en weer op te staan.

Lazanne het die klub vanuit 'n plek van nood begin. Sy verduidelik: “Ek was in 'n baie donker plek. Ek het gevoel asof ek myself verloor het. Ek het my tyd aan kinders en werk oorgegee, en niks het vir my oorgebly nie.”

Die idee om die “Onafhanklike Mammasklub” te begin was op haar hart, maar dit was haar medestigter, Devina August, wat haar aangemoedig het om te bid en die eerste stap te neem. Saam het hulle deur 'n plaaslike Facebook-groep uitgereik, en die reaksies was oorweldigend.

Volgens Lazanne en Devina het hulle hoogte- en laagtepunte beleef, sommige lede verloor en belangrike lesse deur dit alles geleer.

“Ons is tans 12 in die groep,” het Lazanne gesê. “Ons is op dieselfde bladsy en ons deel dieselfde doelwitte.”

Die Onafhanklike Mammasklub is spesiaal vanweë hoe diep persoonlik en spiritueel gefokus elke sessie is. Sessies fokus op emosionele en spirituele groei – vanaf Self vergifnis en die laat vaar van vorige trauma, tot die aanleer van self liefde en die vind van skoonheid in gebrokenheid. Aktiwiteite soos refleksie stappies, hartlike groep gesprekke en 'n kragtige vrouekonferensie het lede gehelp om te genees, te groei en hul waarde te herontdek.

Lazanne het gesê: "Een van my mees emosionele oomblikke was om myself te vergewe." Sy het bygevoeg: "Ek moes myself in die spieël kyk en om verskoning vra aan die vrou wat ek verwaarloos het."

Nog 'n oomblik van haar genesing het gekom tydens die "Walk in My Closet"-sessie, waar sy 'n ou item wat sy gehad het op die dag toe haar eks getroud is, laat vaar het. "Ek het nie eers besef hoeveel daardie item my teruggehou het nie," het Lazanne gesê.

As 'n enkelma wat twee biologiese kinders grootmaak en vir 'n derde sorg en as haar eie beskou. Lazanne verstaan die emosionele stryd om 'n enkelma te wees.

Sy sê die susterskap wat hulle gebou het, help elke lid om balans te vind. "Ons ondersteun mekaar nie net nie, ons leer en groei saam," het Lazanne gesê.


Die “Onafhanklike Mammas Klub”-groep stop nie net by emosionele genesing nie. Hulle beplan om terug te gee aan die gemeenskap deur 'n 'Kersfees-insameling' te hou om klere aan kinders te verskaf. Hulle het ook 'n 'Skryfbehoefte-insameling' vir leerders wat voorberei vir die nuwe skooljaar en 'n 'Maandelikse Voedselinsameling' waar hulle maaltye, klere, skoene en beddegoed aan gesinne in nood aanbied.

Lazanne gee ook erkenning aan die leierskap van haar kerk, Covenant Christian Centre, veral Apostel Richard en Dame Nella Visagie, vir die ondersteuning van haar visie en die verskaffing van 'n ruimte vir die klub se programme. “As enkelma's voel ons dikwels uitgesluit in die kerk, maar ons Apostel het ons 'n platform gegee, en daarvoor is ek ewig dankbaar,” het Lazanne gesê.

Aan ander enkelma's wat dalk in stilte sukkel, het Lazanne hierdie boodskap gedeel: "Moenie te hard op jouself wees nie. Wanneer jy beter weet, doen jy beter. Vertrou God in alles, en Hy sal jou pad lei. Jy is nooit alleen nie, God is jou storie."

Die Onafhanklike Mammasklub is 'n ruimte van genesing, geloof en ondersteuning waar enkelma's saam sterker word. Dit herinner elke ma daaraan dat sy nie alleen is nie, haar storie maak saak, en daar is hoop in elke nuwe begin.

The National Citizen Icon

The National Citizen brings the community together. Delivering relevant, inspiring and solution-driven content to the citizens of South Africa.

admin@nationalcitizen.co.za
0710269746